Zee Se Scribbles

Waarvan die hart vol is, loop die mond van oor

Geldvreters

11 Kommentaar

Daar was R100 in jou beursie … nou is daar net R10. Dis nie jou verbeelding nie: motte wat jou geld opvreet bestaan! Gelukkig kan jy heelwat doen om hulle te keer, en jou beursie propvol hou!  (Helen Ueckermann)

Klink die senario hierbo vir julle bekend.  Beslis vir my!  Ek sien nooit meer geld in my beursie nie, nog voor ek by die autoteller wegstap dink ek het die motte al my geld opgevreet😯

Lees bietjie wat ek by Voelgoed raakgelees het…

SES SLINKSE GELDVRETERS

Keer dat jou geld verdwyn

Wens jy ook jy het in die middel van die wêreldwye resessie ’n paar ekstra rand in jou sak gehad? Kom ons kyk ’n bietjie wat is mense se grootste geldmorsgewoontes en hoe jy dit vir jouself beter kan maak. Dit kan dalk net help om te keer dat die kosbare geldjies so vinnig verdwyn …

Geldvreter mot #1: GEEN BEGROTING

Om nie te begroot nie is vyand nommer 1! Mense wat begroot, leef elke maand volgens hul eie klein geldplan. Hulle weet hoeveel geld hulle inkry, maar ook hoeveel hulle uitgee, en meer belangrik, hoeveel hulle het om uit te gee.

As jy nie begroot nie, het jy geen idee waarheen jou geld verdwyn nie. Mense is geneig om sommer gou ’n paar sommetjies in hul koppe te maak. Die probleem hiermee is egter dat jy ’n week later nie kan onthou wat jy bereken het nie. En wat van al die klein bedraggies wat jy by die OTM getrek het en reeds van vergeet het? Dié uitgawes is soos ’n emmer wat stadig lek, en voor jy jou oë uitvee, is dit leeg.

Jy mag dalk verras wees oor wat jy alles te wete kan kom deur te begin begroot: soos hoe om jou geld te rek of te spaar vir iets wat jy graag wil hê.

Nota aan myself…… dis tyd dat ek volgens ‘n begroting werk.  Elke maand het ek die goeie voorneme om alles aan te teken en hou alle slippies, maar o jinne, nog voor die eerste week weg is, het ek al vergeet dat ek boek wou hou sodat ek die volgende maand kan begroot!

Geldvreter mot #2: ONNODIGE WAARBORGE

Of jy ’n kar koop of ’n wasmasjien, daar is altyd ’n ywerige verkoopspersoon wat vir jou die onmisbaarheid van ’n verlengde waarborg verduidelik. Dit kos soms tot 50% van die koopprys, veral op kleiner items. Dit maak groot geld vir die winkel, maar hoe help dit jou?

Koop eerder ’n produk van hoë kwaliteit en van ’n betroubare handelsmerk. As jy dit mooi oppas, is die kans dat dit binne die waarborgtydperk gaan breek byna nul.

Nie skuldig nie🙂

Geldvreter mot #3: DUUR KLUBLIDMAATSKAP

Wil jy regtig die boeke hê wat jy gereeld volgens kontrak by die boekklub moet bestel? Gaan jy nog gym toe en het jy werklik al daardie wynklub se treffers nodig?

Indien nie, gaan tel ’n bietjie op wat dit jou elke maand kos. Indien jy wel daarvan gebruik maak, werk uit of dit jou nie goedkoper sal uitwerk om dit sommer saam met jou kruideniersware te koop nie. Dan spaar jy sommer op die afleweringskoste ook.

Nie skuldig nie🙂

Geldvreter mot #4: ONNODIGE LUUKSES

Hieronder tel al daardie lekker dinge: om jou kar te laat was, gereeld uit te eet, middagversnaperinge by die werk, gebottelde water, wegneemkoffies, middagetes in die kafeteria, rook … En natuurlik die koop van klaar voorbereide etes, persoonlike afrigters en kitskos.

Dit maak ’n mens skoon uitasem as jy aan al die moontlikhede dink, maar een ding is duidelik: Hier kan jy nou lekker spaar! Kom ons doen ’n sommetjie of twee. Jou man is ’n roker wat twintig sigarette per dag deurdraf. Teen R25 per pakkie beteken dit dat hy oor die tydperk van ’n jaar R9 125 bestee, en oor ’n leeftyd van 50 jaar R456 250!

Om jou kar binne en buite te laat was kos by sommige plekke in Johannesburg ’n stewige R55. Doen jy dit een keer per week, kos dit jou R2 860 per jaar. Drink twee cappuccino’s per week teen R15 elk en dit kos jou R1 560 per jaar. Dit laat ’n mens met ’n heel ander oog na jou plat beursie kyk!

As jy toegang tot ’n tuinslang het, is dit maklik genoeg om jou eie kar te was; as jy oefening nodig het, gaan stap saam met jou vriendinne voor of na werk ’n kilometer of twee; en as jy nie sonder jou koffie kan klaarkom nie, hou ’n houer kwaliteit-koffie in jou lessenaar se laai.

😳 Hier is ek aan ‘n hele paar skuldig, ek laat my kar een keer per week was by die werk, gebottelde water, wegneemkoffies, rook en klaar voorbereide etes…

Geldvreter mot #5: MEGA MOTORS

In Suid-Afrika is jou motor nou maar eenmaal ’n statussimbool wat wys tot watter mate jy sukses behaal. Dus is dit vir die meeste mense moeilike om af te skaal en ’n kleiner model aan te skaf.

Terwyl jy op jou tande kners oor die besluit, is daar tog heelwat maniere waarop jy kan keer dat geld vermors word. 

Beplan jou ritte beter sodat jy verskeie take met een rit kan afhandel. Ry byvoorbeeld in een rit na die skool, die supermark en die kinders se na-uurse aktiwiteite toe.

Stig ’n saamryklub sodat jy net een keer per week met jou eie voertuig hoef werk toe te ry. Maak ook seker dat jou motor teen sy markwaarde verseker is. As jou kar al ’n paar jaar gelede gekoop is, het die waarde beslis afgeneem en moet die versekering aangepas word.

Ek moet sê ek beplan nogal my roetes to the T….. Ek haat dit om rond te ry, o ja, en ek ry ‘n klein wit blitsie, sommer so cheapie en baie lig op petrol  🙂

Geldvreter mot #6: IMPULSIEWE AANKOPE

Hieronder tel alles wat jy koop omdat die gier jou onverhoeds tref. Dit beteken jy het te veel kontant in jou beursie, en jou debiet- en kredietkaart word te maklik uitgehaal.

Hoeveel wit olifante staan in jou huis? Daardie tweestuk-pakkie en bypassende skoene wat op die uitverkoping na so ’n winskopie gelyk het, maar wat jy nog nooit aangetrek het nie? Die broodmaker wat jou so lus gemaak het vir ’n vars snytjie as jy soggens opstaan?

Gee jouself 24 uur kans om na te dink voor jy koop. As jy dan steeds dink dit is ’n goeie idee, is jy waarskynlik reg. Maar miskien besef jy, as jy daaroor geslaap het, dat dit eintlik net ’n mors van kosbare geld is.

Ek dink die meeste van my geldjies lê hierso :-(  Ek kan bv. nie by die supermark uitstap sonder dat ek iets nuuts op die rakke gekoop het nie.  Ek het al probeer om vir Marcia winkel toe te stuur maar dan bel ek haar elke 2 minute om iets by te voeg.  Dalk moet Liefie maar die inkopies begin doen, want jinne, hy draai sy sente omtrent 200 keer om voor hy dit uitgee.  Dankie tog ek besit nie meer ‘n krediet kaart nie, ek weet nie hoeveel olifantjies dan nog in my huis sou staan nie…

Het julle ook geldvreter motte in julle huise?

Author: Zee

Waarvan die hart van vol is, loop die mond van oor....

11 thoughts on “Geldvreters

  1. Zee,

    Kom pik ‘n traantjie. Kom wip ‘n woordjie. Kom se koebaai.

    http://delliesedinge.wordpress.com/2009/11/18/dont-cry-because-its-over/

  2. Ek het net 2 sulke motte. Raai wat is hulle name??? Franco en Mia. 🙂
    😉

  3. Ek het nie net motte nie, maar daar’s wurms ook!

  4. Ek het ook 2 motte. En glo my, hulle kan nou omtrent vreet!!😆

  5. Yippeeee!! Kyk al daardie rookgeld wat ek gaan spaar!!

  6. Nouja, motjie no. 6 is nou maar eenmaal in die familie. Soos die motjie kleintjies kry (onthou, hulle nommers bly almal no.6) word dit aangepass na die kinders en kleinkinders. Die enigste manier lyk my, sal mottegif wees maar dit sal baie sterk moet wees want ek het my motjie al paar keer gevoer, maar dis nog steeds lewendig!

  7. Ek stem beslis saam met nr 5 – mega motors…ek hou van ‘n lekker gemaklike kar, maar dis soos my selfoon, hy moet my net van A-B toe neem, my nie in die steek laat nie en altyd net reg wees, ek wil nie gaan staan en sukkel langs die pad nie. Ek ry my Corsa-tjie en ek’s dol gelukkig om een te he, status simbool se toon vir my. Manlief moet ook altyd die beste en nuutste selfoon he..vir wat…as jou selfoon kan bel en die normale dinge kan doen..waarvoor nou daardie ekstras he wat jy byna nooit gebruik nie. Goeie inskrywing, ek spandeer liewer daardie ekstras op myself as op ‘n blik

  8. Sjoe Zee,
    Begrotings lyk so mooi op papier….. maar AI!! Ek sukkel om dit toe te pas. – Nr 1 is my doodsteek
    Nrs 2 en 3 kan ek ook sê: onskuldig.
    Luukses – wie besluit wat is luukses? Is ‘n digitale kamera, terwyl jy ‘n film een het, ‘n luukse? Maar ek glo nie met 4 kinders kan ek skuldig staan nie
    Wat my bring by nr 5 – met vier het ek nie ‘n keuse nie – ek ry ‘n BUS!🙂
    Nr 6 – net wanneer manlief by is – wat gelukkig selde gebeur, dus geniet ons pa se bederfies.
    Beteken dit ek het R100 in my beursie….. HAhahaha, never!

  9. wat is n begroting? kan mens dit eet?

  10. Deesdae het ek nie motte nie, want hier is nie meer geld nie!

  11. Jinne Zee…. was ek so lanklaas hier…. dat ek’n post van NOVEMBER gemis het? 😯

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s