Zee Se Scribbles

Waarvan die hart vol is, loop die mond van oor

Dwelm Getuienis

18 Kommentaar

Wellington INFO is, ‘n nie-winsgewende burgerlike samewerkings organisasie, wat op die been gebring is om die drygende misdaad situasie onder die aandag van die gemeenskap te bring, en deur middel van die betrokkenheid van die hele gemeenskap, ‘n omgewing te skep waarbinne dit onmoontlik is vir kriminele om misdaad te pleeg, sonder om gekonfronteer te word deur die gereg.

Ek het die volgende getuienis / belydenis van hulle per e-pos ontvang en plaas dit met toestemming.

Ek wil my storie begin deur om vir julle te vertel wat my agtergrond was voordat ek met dwelms begin het. Nie om te brag of om groot te praat nie. Net om vir julle ‘n idee te gee dat dit met enige iemand en met enige persoon, ek bedoel regtig dit kan  met enige iemand gebeur. Maak nie saak wie of wat jy is nie. Ek het baie vriende gehad en ek het meestal met almal goed oor die weg kom. Ek het gemiddeld op skool gedoen en het Cravenweek rugby gespeel. Ek het ouers wat definitief van die beste ouers ter wêreld is, MAAR ek het dinge te veel as vanselfsprekend begin aanvaar. Ek kom uit ‘n baie liefdevolle huis en vandat ek kan onthou het my ouers my van Jesus vertel en van hoe lief Hy my het. My ouers het ook nie nonsense gevat nie. 

Maar toe ek na skool Londen toe is, het die dwelms erg begin raak. Ek het al op skool in Graad 9 begin dagga rook en gedink dis niks, want almal doen dit. En met almal bedoel ek weereens ALMAL. En ja ‘n mens dink jou kind is in ‘n goeie skool en ja hulle is, maar , dis by die kinders in die skool waar die probleem lê. Dit gebeur selfs in my skool , Hugenote Hoërskool, die skool op waarop ek tot vandag toe nog baie trots is. Kinders  deal dwelms  in ons skole. Sommer hier in ons pragtige dorp Wellington. Ek was by onskuldige “house parties” en op die ou einde van die aand was ons almal lekker dronk  en het niemand meer omgegee nie dan het ons dagga gerook. Net omdat dit so alledaagse ding geword het. Maar dis nie waar dit gestop het nie. Dit was eers net naweke en toe deur die week en later elke dag. 

Toe ek in Londen was met geen ouers wat vir my gaan sê wat om te doen en wat om nie te doen nie, het ek met chemicals , jou meer hardcore drugs begin. Eers met cocaine en ecstacy.  Toe ek terug kom in Wellington het ek van die dwelm tik of crystal meth gehoor en dit toe een aand gerook. As ek maar net geweet het dat een aand al lankal een te veel is. Dit is hoe verslawend tik is. Een aand en dan is jy verslaaf. Hoor wat ek vir julle sê!!!! Ek weet. Al sê wie ook WAT vir jou. Een keer is EEN KEER te veel!!!!  Sommer die volgende dag het ek weer gevat en van toe af was dit ‘n jaar en ‘n half van hel. 

Ek het eers genoeg geld gehad om my habit te support.  Die dealers gee mos vir jou sommer 2 keer so veel vir ‘n lae prys. Natuurlik , net om jou verslaaf te maak, want as jy eers verslaaf is, dan het hulle jou net waar hulle jou wil hê. En natuurlik as jy eers verslaaf is, doen jy enigiets vir geld. Al wat in jou lewe bestaan is 2 goed, ‘n manier om geld te kry en natuurlik  om dwelms in die hande te kry. Ek het eers begin deur om na house parties toe te gaan en as almal lekker dronk is, het ek begin rondkyk en goed begin steel om na die dealer te vat in ruil vir dwelms. Soms ook sommer van my vriende. En die ergste van alles is dat ek nie eers sleg gevoel het as ek gesteel het nie.Ek het inteendeel goed gevoel, want ek het geweet ek gaan my fix kry. Jy is in ‘n ander mindset.  ‘n Criminal mindset.  Jy is die selfsugstigste persoon wat ‘n mens kry. Later het ek so paranoid geraak dat ek nie meer na house parties toe kon gaan nie. Reg volgende plan. Eers net dit. ‘n Dwelmverslaafde is ‘n meester manipuleerder. As hy iets wil hê,  dan kry hy dit. Ek belowe jou! En wat is makliker as om jou ouers te manipuleer.  Ek het toe vir my ma-hulle begin geld vra en as hulle nie vir my wil gee nie, het ek hulle so sleg laat voel dat hulle op die ou einde tog maar vir my geld gegee het. 

Toe my ma-hulle nie meer kon gee nie, het ek my ma se bankkaart begin steel en geld gaan trek vir dwelms.  Dit was die geld waarvoor my ma so hard gewerk het.  Haar geld. En dan gaan trek ek dit vir dwelms. Maar dink julle ek het geworry.  Glad nie glad nie. Toe my ma-hulle my uitvang, het ek maar net weereens vir hulle gelieg. Maar toe vat dinge ‘n helse draai en ek begin self dwelms te “deal” –  onder my sogenaamde vriende. Begin vir dealers met my pa se kar groot hoeveelhede tik aanry – net vir ‘n hit.  As die polisie my daardie tyd moes aftrek, sou ek vandag nog in die tronk gesit het.  Maar ek het regtig geen emosie of geen gevoel in my gehad nie. Geen. Ek het later so baie tik begin rook dat ek alle verhoudings met my ware vriende verloor het en so ook met my ouers en broer. 

En toe vang my pa-hulle my een aand waar ek in my bed lê , uitgepass  van hopeloos te veel tik rook.  My ma en pa was stukkend.  Hulle kon dit nie glo nie.  Nie hulle kind nie.  Hy was dan altyd so voorbeeldig en goed gemanierd. So, moenie dink dit kan nie met jou of jou kinders gebeur nie, want dit kan.  Niemand is gevrywaar van dwelms nie – dit maak nie saak wie of wat jy is, of waarvandaan jy kom nie. Jy kan so gou soos in ‘n halfuur verslaaf raak aan dwelms, veral aan tik. Nadat my pa-hulle my gekry het, was  vir drie dae daarna  so swak, omdat ek nie ‘n fix kon kry nie, dat ek nie eers uit die bed kon opstaan nie, omdat ek partykeer tot 10 dae lank niks geslaap het nie en tik onttrek al jou kragte uit jou uit. Ek het besef dat ek rock bottom getref het en hard. 

Maar dis nie waar alles geëindig het nie. Ek het toe weer daarna gebruik en om ‘n lang storie kort te maak is ek in 2006 rehab toe. 

Nou almal weet dat rehab nie baie lekker is nie en veral om deur die withdrawal te gaan is glad nie lekker nie. Ek het baie in die eerste 4 maande van rehab af terug gehike huis toe, vanaf De Aar tot in die Kaap, net om weer te kom tik rook.  Later het dit net te erg geraak en ek het weer probeer weghardloop en die polisie het my gevang en so is ek toe tronk toe omdat ek ‘n section 22 teen my gehad het, wat beteken dat as ek nie in die rehab is nie moet ek in die tronk wees. Ek was vir tien dae in die tronk en dis verskriklik erg, maar snaaks genoeg dis waar die keerpunt in my lewe gekom het. Ek het toe in die tronk my lewe vir die Here gegee en van daaraf het dit net beter begin gaan. Sonder Hom sou ek vandag of dood of nog in die tronk gewees het. 

So vat my raad en sny die dwelmhel af voor dit jou tref, want as dit jou tref is dit hel. Wat ek probeer sê is dat ons almal vatbaar is vir dwelmverslaafheid. Maak nie saak wie jy is nie. Hou op dink dit kan nie met jou gebeur nie,  want dit kan. Praat met mense daaroor as jy verslaaf is. Dis nie ‘n ding om oor skaam te wees, want  deur middel van skaam wees, verwoes jy jou lewe en die mense rondom jou se lewe. 

Ek hoop my storie laat julle wakker skrik en julle laat besef dat dwelms 90% van die keer die oorsaak van misdaad is en as ons die bron van misdaad, wat dwelms is,  kan verwoes sal ons so ook ons lieflike dorp Wellington van misdaad kan bevry. Dis ‘n wen-wen situasie. 

Waardeer wat jy het want jy weet nie wat jy het tot jy dit nie meer het nie. Stop dwelms asb. Jy is nie cool as jy dwelms gebruik nie.Jy’s ‘n freak!!! 

zee-signature2

Author: Zee

Waarvan die hart van vol is, loop die mond van oor....

18 thoughts on “Dwelm Getuienis

  1. Dankie dat jy jou storie met ons gedeel het. Ek is bly jy het die dwelm duiwel van jou skouer af gekry. Ek gebruik self nie dwelms nie en het ook nooit die behoefte gehad om eers te probeer nie. In my lyn van werk het ek gesien en besef wat dit aan mens doen. Als van die beste vir jou, bid dat jy skoon sal bly, met die hulp van jou ouers en vriende sal jy dit reg kry. Met God by jou sal jy nie weer daai pad loop nie. Ouers ek hoop julle bring dit onder julle kinders se aandag, dis asof ouers wegskram om met hul kinders te praat oor drugs, nes ons ouers oor seks was, kon nie eers se ” hi kyk dai tannie is swanger” sonder om n back hand deur die gesig te kry nie. Vandag is dit n open topic, laat dit ook so wees met drugs.

  2. Izak, ek is seker dit is hoekom Zee hierdie blog begin het. Deels om vir haar as terapie te dien en deels algemene bewusmaking. Dit is verbasend hoeveel mense niks van dwelms af weet nie. Ons inkluis. Ons moes maar met M so leer-leer uitvind. Om mense bewus te maak van hierdie probleem is nou haar visie. As dit net een persoon help het sy al in haar doel geslaag.

    Dankie Zee, doen so voort.

  3. Dit is skrikwekkend om sy storie te lees Zee. Dankie dat jy dit kom deel het.

  4. A3 ek stem volkome saam met jou. Ek het ook nie veel van drugs geweet nie maar vandat ek op Zee se blog gelees het oor al die dinge is ek meer op datum, ek is haar ewig dankbaar dat sy haar storie met ons almal deel. Dit is die beste blog waar ek al ooit was. Ek kyk na nuwe oë na dwelms en om te weet hoe vreilik dit bekom baar is maak mens bang. Ek bid elke dag dat ons nie deur dit moet gaan wat Zee en haar familie moes gaan nie en nog steeds gaan. Ek se nou die dag vir Zee, sodra ek die internet aan sit hol ek eers na haar blog om te sien wat is nuut, dan eers gaan ek na my eie site. Zee hou so aan mens, jou blog is vir my soos die Huishenoot vir my vrou is.

  5. Ek stem ook saam met A3, ek het absoluut niks van dwelms geweet nie. Nou is ek al baie slim alles te danke aan jou Zee!

  6. ‘n Baie kragtige getuienis. Vir die skrywer, dankie dat Zee dit met ons kon deel. Soos die ander, het ek ook nie veel van dwelms geweet nie. Dit was asof ek dit uitgeskakel het en gevoel het dit het niks met my te doen nie. Maar deur wat ek al hier geleer het, is my oë wawyd oop en sal ek nooit as te nimmer daarmee eksperimenteer nie. Sterkte vir jou vorentoe!

  7. Sjoe, ‘n kragtige getuienis! My man se aanneem-broer was ook betrokke by dwelms en het ook geld by ons gesteel. Dit was ‘n baie hartseer tyd. Hy het op 18 selfmoord gepleeg.

  8. Zee, hoe gaan dit met jou kind en die se meisie?

  9. Ek is ook dankbaar vir jou blog en dit wat jy hier vermag. Dankie vir hierdie ene.

  10. hey zee
    ek is nuut op jou blog, maar ek moes dalk net hier in gekom het.
    Ek was ook n junky so ek weet waardeur jy gegaan het.

    my shit was ecstacy en acid, ek het ook “vriende” gehad in baie plekke. Ek het begin deal en toe was dit verby! as die nigeriers eers n houvas het op jou kom jy nooit weer los daaruit nie.

    Ek het seker vir so vyf jaar elke dag gebruik, selfs by die werk want dit het my “beter” laat werk het ek geglo.

    As ek maar net geweet het hoe die mense vir my gelag het daai tyd, maar jy is mos blind vir alles en almal om jou al wat jy sien is die volgende fix!!

    ek is nou vier jaar skoon en ek gaan dit so hou!!
    ek was gelukkig nog nie in rehab gewees nie maar ek het by die huis skoon geraak.

    nou nog as ek terug dink aan daai aande voel ek nog hoe ek cold turkey!!!
    ek het twee keer ge “flat line” waar hulle my in die hospitaal moes bybring.

    As ek in die dorp rond ry vandag en ek sien van die ou dealers nog op straat voel ek lis om te stop en hulle in die saad sakke te skop want deur hulle het ek my lewe verloor, kyk ek weet ek het ook deel daaraan ek kon die eerste aand nee dankie gese het maar dis hy wat die gemors ge offer het!

    So ek se ook dankie dat jy braaf genoeg gewees het om jou ervaaring met almal te deel

    Stay clean Stay healthy!

  11. Night Crawler, dankie vir jou dat jy ook jou verhaal so ‘n klein bietjie hier kon vertel.

    Hier is ‘n cheers op die volgende leeftyd sonder dwelms vir jou!!!

  12. Ek het allmal op hierdie site se hulp nodig. My ou is ‘n Tik verslaafde en was al vir ‘n jaar in rehab. Hy wil nie terug gaan nie, want hy se hy het te alleen daar gevoel. Hy het al baie mense in sy lewe verloor, sy suster is ses jaar terug in ‘n motor ongeluk dood en sy ma laas jaar aan kanker. Maar die ergste is dat sy pa in rehab is agv drank en dwelms en hy dink hy gaan soos sy pa opeindig.

    Kom ons noem hom D, D praat baie min, die meeste van die tyd baklei hy met homself in sy kop en skryf die een brief na die ander. Die rehab waarin hy was(FOM) se hy is nie hul algemene verslaafde nie, hy het ook ‘n erge depressie. D, sal so eenkeer of twee keer ‘n maand tik koop, ons sorg dat hy nie baie geld by hom het nie, maar as jy het spandeer hy dit alles(R200). As hy high is ken ek hom nie, en daarna sluit hy homself in sy kamer toe vir ‘n paar dae sonder om te eet en sonder om met iemand te praat.

    Ek voel leeg, ek wil hom nie los nie, want hy het al te veel mense verloor. Maar wat doen ek. Ek woon in Wellington, en hoop hy kan iemand wat dieselfde deurgemaak het, maar wat nou skoon is ontmot, sodat jy kan sien dat sy lewe kan aangaan en dat hy nogsteeds kan fun he. D is 23 en dit breek my om te sien dat hy homself so weg sluit. Hy is bang vir mense en is elke keer so teleurgestel in homself as hy terug geval het dat jy nie eers weet hoe hy werklik voel nie.

    Ek wil graag my sel no en my email adres gee. 0834439469
    kaboouter_snoet@hotmail.com

    Sterkte aan almal!
    Help asb.
    M

    • hi M, ek het jou nr gevat, weet jy moenie ophou bid vir hom nie , vra die here om jou te help hier deur, ek is in dieselfde ding, net my ou het besef dat dit nie vir hom is nie , maar nog steeds het hy tog die hulp en ondersteuning nodig om by hom te staan, die cravings is erg , but we believe that it will go away.

      kontak my gerus , as jy wil gesels my nr is 073 039 3458, ek help graag. ons almal het mekaar nodig , daar is nie tyd vir wegstoot nie .

      dankie

      muriel

  13. M, ek is so jammer dat ek nou eers hierdie kommentaar sien. Ek stuur vir jou ‘n e-pos!

  14. Hey M, ek haal my hoed vir jou af en sou tien teen een dieslefde gedoen het as ek in jou skoene was, hoe kan n mens dan daai persoon wegstoot ek dink net dis half jou plig om te help of dit nou n vriend of geliefde is. Baie sterkte met als waardeer jy gaan, ek sit ook met n soortgelyke probleem enigste verskil is dis nie my ou nie maar dit is n familie lid waarvoor ek baie lief is. Ek Bid vir jou en Glo dat als sal regkom…

    Groete

    • hey foxy , dis waar wat jy se maak nie saak of dit a family of vriend is nie , ons moet mekaar bystaan. die duiwel het 3 van wat baie na aan my is kom besoedel met dai gemors van tik, my neef is nou in dit kaap ek weet glad nie waar hy slaap nie, maar wat ek weet is dat God voorsien .

      dis nie maklik nie , dis maar geduld wat ons moet het , om te skel en agresief te word sal nie help nie ons moet hulle bystaan net bid. ek weet en vetrou dat tik sal a einde het, ons moet net bymekaar staan.

      dit is so awsome hoe God met ons jong mense werk, want glo my ek is maar een met min geduld , maar nog elke dag gee God my die geduld om ander te kan help.

      Gister aand was daar biduur by my ou se huis, hy was nie daar nie , sy phone is af , ek het net die Here gevra om my kalm te maak , ek het hom ook nie gevra waar hy was nie, ek wil net he dat die nagmerrie moet verby gaan. Hy gaan nou weg vir a maand , ek hoop en vetrou op die Here.

      Baie dankie vir die ondersteuning , ek waardeur dit .

      Muriel

      • Hi Muriel, welkom hier op my blog.
        Dit is so waar, vriend of familie, mens moet by hulle staan. Dit is vir my bitter moeilik om weer my seun by te staan op die oomblik, en ek moet hard op my tande byt elke sekonde wat hy by my is, maar ek sal aanhou probeer en eendag gaan hy reg wees, in God se tyd!

        Sterkte met jou pad saam met jou vriend…

        • hi dankie , dis vir my a vooreg om deel te kan wees . op die oomblik is dinge vir my baie swaar, almal vertel vir my van ek moet my vriend los dat hy sy eie pad loop , en dat hy is a groot mens hy weet wat hy doen is verkeerd, maar ek kan dit mos nie doen nie. ek kan hom verloor as a ou ja maar as a vriend wat ek kon help het nee, hy het my nodig al se hy dit nie ,

          ek weet hy sal reg kom , ek weet dit met my hart en siel . ek is net bly dat God my nog elke dag krag gee om geduld te het .

          geniet die naweek , en sterkte met alles van jy aanpak, en ek weet dat jou seun sal regkom soos jy se nie in ons tyd nie maar in God se tyd.

          Muriel

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s