Zee Se Scribbles

Waarvan die hart vol is, loop die mond van oor

Hoe veilig is ons kleuters?

31 Kommentaar

Ek hoor vanoggend oppad werk toe van die vreeslike tragedie wat gister in Pietermaritzburg gebeur het.  Dit het my weer aan die dink laat sit hoe veilig is ons kleuters wat ons bedag by dagmoeders of kleuterskole aflaai.

Sowat agt maande terug het my seun en sy verloofde gedreig om Zeethan te ontvoer omdat ons hulle nie wou toelaat om hom te sien nie.  Toe besef ek dat my kleuterskool wel veilig is, behalwe vir een puntjie…….

Daar is ‘n kode wat jy moet intik om die veiligheidsdeur oop te kan maak.  Baie ouers is of te lui of laat en hulle het nooit die deur op knip gesit nie.  Ek het gaan kla oor dit en my probleem verduidelik.  Sê nou net hulle het daar ingeloop omdat een onverantwoordelike ouer nie die veiligheidsdeur op knip getrek het nie.  (Ons moes foto’s van hulle gee sodat die personeel kon weet hoe hulle lyk net vir ingeval hulle dit wel sou waag.) 

Die eienaar was baie simpatiek teenoor my en het ‘n nog groter kennisgewing aan die veiligheidsdeur laat opsit dieselfde dag wat iets in die lyn is van…..  Maak seker die veiligheidsdeur is toe vir die veiligheid van u eie kind.  ‘n Mens kan dit nie mis nie, en vanoggend weer het ek besef hoe onverskillig party ouers is omdat hulle laat is.  Party maak nog steeds nie seker dat die deur op knip gaan nie en die personeel (DANKIE) gaan dan en maak seker dat die deur toe is. 

IS JY EEN VAN DAARDIE OUERS WAT SO ONVERANTWOORDELIK IS?  Weet jy dat enige een daar kan instap as die deur oop is en jou kind kan kom ontvoer!!!!  Maak seker jy volg die sekuriteits reëls wat daar is vir ‘n rede!  Ek is nou moeg om jou kind veilig te hou!

Hier is die berig van die vreeslike tragedie wat gister in Pietermaritzburg afgespeel het.  My hart gaan uit na hierdie ouers toe!

Dagma ry baba dood, beseer nog 9

Jul 29 2008 10:32:48:273PM 

‘n Baba is dood en nege beseer toe ‘n dagmoeder per ongeluk met haar motor in die babas vasgery het. 

‘n Baba is dood en nege beseer toe ‘n dagmoeder van Pietermaritzburg gister per ongeluk met haar motor in die babas vasgery het.

Volgens supt. Henry Budhram, polisiewoordvoerder, het die ongeluk net ná 15:00 by die Oriental Daycare Centre in die Orient Heights-woonbuurt in Pietermaritzburg gebeur.

Die vrou se man het na bewering die motor voor die motorhuis geparkeer toe hy tuisgekom het. Die vrou wou later die motor agteruit skuif, maar het vermoedelik die verkeerde rat gekies en vorentoe gery.

Sy het in die motorhuis ingery waar die kinders gespeel het. ” ‘n Agt maande oue baba is dood en nog een is ernstig beseer,” het mnr. Chris Botha, Netcare 911-woordvoerder, gesê.

Die baba is onderweg na die hospitaal dood.

Die ander babas is almal in ‘n ernstige toestand.

Botha het gesê die meeste van die kinders was tussen drie en vier jaar oud.

Die polisie ondersoek ‘n klag van strafbare manslag. Budhram het gesê die vrou het ineengestort en is in tans in die hospitaal in ‘n “erg getraumatiseerde toestand”. – Sapa

Author: Zee

Waarvan die hart van vol is, loop die mond van oor....

31 thoughts on “Hoe veilig is ons kleuters?

  1. Ai Zee, dit moet verskriklik wees! Ek het nie woorde nie. Dit maak mens vies as party ouers nie kan dink nie. Hulle het heel moontlik hul kinders in daardie kleuterskool gesit oor die veiligheids maatreels, hoekom kom hulle dit nie na nie? Mense dink nie meer vandag nie. Dinge kan mos nie met hulle kids gebeur nie.
    Groetetjies
    Sonneblom

  2. Daar is een Afrika mentaliteit wat gerus maar aan almal kan afsmeer. Jou kind is my kind. Jy behandel alle kinders asof hulle jou eie is. Ek probeer daarvolgens lewe.

    Die dagmoeder was in my oe onverskillig. Hallo, almal van ons kies soms die verkeerde rat, maar jy besef dit voordat jy 2 cm gery het. Ek dink eerder sy was gefrustreer en wou die kinders skrik maak. Nalatig beslis, ek hoop sy word vir ten minste manslag aangekla.

  3. Toe my oudste 3 maande was, het hy by ‘n “wonderlike”vrou gebly….fyn, dierbaar, vroulik, liefdevol ens…. Iemand by wie enige van ons ons kidz sou los. Eendag het ek hom na werk gaan haal en hy was bietjie lastig. Ek gee toe vir hom ‘n bottel pynpille om te skud.(Hy was maar 4 maande, sou dit nie kon oopkry)! Die vrou vra my toe watse pille dit is, ek se toe en net daar vra sy my of sy nie asb 8 (AGT!!) kan kry nie. Ek gee toe want die arme vrou het ‘n migrane op pad….seker van al die 3-6maande oue babas! 2 aande later bel die apteek waar sy vra of sy op ons aptek rek kan voorskrifte kry, haar man is nie tuis. Weer kry ek jammer en se ja. Na 2 maande wil die aptek my opskroef toe ek nie die rek betaal sy sou dit self betaal)…. toe ek afskrifte gaan haal, het ‘n nuwe dame wat by apteek werk “foutiewelik”vir my afskrifte van voorskrifte gegee….Dit was op die dagmoeder, haar kind en haar man se naam…. al3=pynpille, slaappille en kalmeerpille….. So weet nie een van ons wat sy alles met ons kinders gedoen het nie, want sy was elke dag op high as sy na hulle moes skyk! En nie een van ons ouers het dit agtergekom nie! Selfs die dagmoedervereniging kon my nie eers help met die saak nie! Dit is maar vandag ‘n geweldige groot verantwoordelikheid waar jy jou kind los! Dankie tog myne is nou al groot!

  4. Ons was gisteraand weer vir die eerste keer in ‘n lang tyd by die vergadering van ons gemeenskaps sektor polisieërings forum en spesifiek een ding wat hulle gesê het is nogal scary.
    Daar is ‘n gemiddeld van ongeveer 970 ontvoerings per maand (meestal kinders) in Gauteng alleen, en dit is aan die toeneem.
    Mense moet begin wakkerskrik en begin oplet na veiligheid.

  5. Hi Zee, dit is verskriklik. Daai arme ouers.
    Myne is nog by my by die huis maar hy sal een van die dae kleuterskool toe moet gaan. Ek wil nie eers daaraan dink nie. Ek weet nie of ek iemand kan vertrou met my kind nie. Daar is soveel stories vandag. Dit klink of ‘n mens se kind nerens meer veilig is nie.

    Tersia – Dis baie erg. Ek sal so groot bohaai opskop, niemand sal hul kinders ooit weer na haar toe vat nie. Dis pateties dat die dagmoedervereniging niks kan doen nie. Hoekom is hul dan daar?? Kan jy dink wat sou gebeur het as jy dit nie agtergekom het nie?

  6. Sjoe, dis verskriklik! My keel trek sommer toe van benoudgeid. Hoe kan mens mens se kinders beskerm!?

  7. Dis baie erg, het gelees van die ongeluk. Vriende van my Ma se kleinkind was by ‘n dagmoeder en die kind het op haar kop geval en sy het niks vir die ouers gesê nie en 2 dae later kom die ouers agter daar is fout met die baba en toe hulle met die dagmoeder praat sê sy toe vir hulle die kind het geval. Dit was van so ‘n aard dat die kind ‘n operasie moes kry om die bloeding weg te kry. En vandag is die arme kind ook nie wat sy moet wees nie. Haar brein het skade gekry met die val.

    Waar sal ons arme kinders veilig wees. Hulle is nie eers in hule eie huise veilig meer met die misdaad in ons land nie

  8. Zee, by my werk het ons ook deure wat elektronies sluit. Baie blok ook die deur omdat hulle te lui is om elke slag oop en toe te maak. Gelukkig is die deure aan alarms gekoppel wat jou 30 sekondes kans gee om in te kom en die deur maak self toe. Ons het ook kamera’s by die deur sodat ons kan sien wie die alarm laat afgaan het. Hulle moet dalk so iets oorweeg.

  9. Dis iets allerverskriklik sad!!😦

  10. Rustig, dit is ‘n uitstekende idee!!! As hulle so iets doen sal ek ook baie rustiger wees in die dag. Hulle het kameras by die deur so nou net push vir so alarm stelsel!

    Adriana, ek stem saam met jou, met soveel kindertjies in die omtrek moet jy maar die voertuig later skuif, hulle is so vinnig, ek weet, net Maandag oggend toe ek my rug draai hardloop Zeethan na oupa toe waar hy in die kar klim om werk toe te gaan, gelukkig het ons die reël dat niemand ry as ons hom nie in iemand se hande sien nie.

    Sonneblom, ek weet ons kleuterskool is baie streng oor veiligheid maar die deur storie bly n probleem. Rustig se idee gaan regtig werk, so ek hoop hulle val vir die idee!

    Tersia, nou wonder ek of hierdie dagmoeder nog na kinders kyk. Party van hulle kan nogal die “verslawing” goed wegsteek!

    Koekie, ek wou ook nie weer terug gaan werk toe nie, maar moes maar om die kospotte vol te hou. Ek was gelukkig in die sin dat my eie kinders in die kleuterskool was en dit behoort ook aan iemand wat ons persoonlik ken, so ek gaan werk darem met ‘n rustige hart elke dag. Gaan besoek maar ‘n hele paar en peper hulle met vrae totdat jy rustig is in jou hart dat jy seuntjie by hulle kan los!

    Jaco, dit is darem maar baie kindertjies wat so ontvoer word in ‘n maand, ek dooi 10 dode as dit met my moet gebeur. Ek “baklei” omtrent elke dag met die ouers wat nie die deur op knip sit nie en wys maar net met my vinger na die bord toe wat vra dat hulle dit vir hulle kinders se veiligheid moet doen.

    Suz, sjoe dis bad, ek het die reeling by die kleuterskool dat hulle my moet sê dat mens hom dokter toe kan vat as dit nodig is, jinne, dit kon by die huis ook gebeur het, meneertjie het juis so 3 weke terug van die bed afgeval toe ek net my rug gedraai het, en hy weet goed hoe om van ‘n bed af te klim.

    Bottertjie, kalm nou, maar ek vra myself ook daardie vraag af…. Hoe?

  11. SJOE!! Ek was nou die ene hoendervleis toe ek die berig gelees het!! Hoe verskriklik en ek kan net dink hoe moet die arme vrou voel!! Ek stem saam oor daardie veiligheid van kinders. Hier in ‘n London skool kom ‘n inspektrise die een dag (!!…inspektrise!!) en los die hekkie van die heel kleintjies (hulle is mos by meeste skole deel van die laerskole) oop! Twee keer!! Jy het die regte ding gedoen en ongelukkig is ek een van “daai” ouers as dit by kinders kom, ek sal weer gaan kla as dit aanhoudend gebeur dat ouers dit doen, hulle moet in ‘n nuusbrief aan ouers dit in hoofletters vir hulle uitspel. Daardie ouers wat so haastig is moet aan hulle eie kinders ook dink! Ek was paranoies – lieweland, is die spelling reg hier, dit lyk snaaks! lol – toe my kinders klein was, selfs nou nog as ons in die park gaan ry en hulle ry ver vooruit met hul fietse wil ek ‘n baba kry! hehehe…

  12. Zee, dankie. Ek sal hulle beslis peper met die vrae en sommer ongereelde ure daar ‘n draai gaan maak.
    Die idee van Rustig kan beslis werk, ek hoop vir jou part hulle kyk ernstig na so iets.
    Lekker dag verder.

  13. Jeeeeezzzzzz, Zee dis die freaking verkeerde tyd vir my om so iets te lees!!! My keel trek toe en ek slaan in koue sweet uit!! Liewe genade tog! Ek sit en bewe, hierdie kleuterskool toe ganery van die kinders is vir my so ‘n teer sakie, ek is werklik vreesbevange…

  14. Vok vok vokinjel!

  15. Ons gesels vanoggend oor dieselfde storie by die huis. Noudat ek swanger is en begin rondsoek na ‘n kleuterskool of dagmoeder kom ‘n mens agter hoe versigtig jy moet wees en hoe seker jy moet maak dat die kleinding na die regte plek toe gaan.

    Ek hoop ons sal die regte keuses maak en dat sulke tragedies nie plek hoef te hê in Stoffel se lewe nie. ‘n Mens hoor so baie van kinders wat gemolesteer en bedwelm word by kleuterskole en dagmoeders dat ek skoon op my senuwees is.

    Ek voel eintlik baie jammer vir die dagmoeder wat die kinders raakgery het. Ek dink sy moet in ‘n toestand wees.

  16. Liewe aarde dis vreeslik!!!
    Vir die ouers en die dagmoeder!

    Hierdie kinder ontvoerings is scary, elke week kry ons die rekord koerantjie, en elke keer is daar vermiste kinders.

    Niks loop meer reg nie, hulle steel nou al glads ons kinders!

  17. Ai tog dis erg onstellend,dan dank ek maar net die liewe Vader dat myne deur kleuterskole en dagmoeders is en gelukkig ongeskonde anderkant uitgestap het.
    Sterkte vir julle wat nog deur die skole moet gaan my jongste darem aamper klaar met skool

  18. Volgens dagmoedervereniging ek praat nou van 1992) het die vrou ook op skelm maniere hulle dokumentasie bekom, maar daar is steds niks aan gedoen nie! Weet niks van haar! Kobus wou sommer haar huis afbrand!

  19. Dis hectic. Ek kry ook die dagmoeder jammer, maar die ouers van daai arme baba nog meer.

  20. Hi Zee,
    Ja, ek het ook vanoggend sommer naar geword toe ek die storie lees. Hoe voel die arme dagmoeder nie? As ek sy was, het ek sekerlik selfmoord gepleeg. Dis die ding van ‘n ongeluk, ne? Dit gebeur so onverwags. Arme mense.

  21. Hierdie is ‘n vraag wat niemand met eerlikheid kan antwoord nie. Hoe veilig is jou kleuter???Enige iets kan gebeur. En hierdie storie is baie hartseer.

  22. Ag nee goeiste dis erg. Sou graag vokov wou aanhaal! ‘n Ongeluk gebeur so vinnig – en dan nog meestal waar jy dit nie verwag nie – en as mense dan nog boonop onverantwoordelik is, is dit soveel erger. My laaitie is nou al 7 en ek worry nou nog meer as toe hy ‘n kleuter was! Gistermiddag by die Voortrekkers het die kinders na die tyd bietjie gespeel en toe ry een (die een by wie se huis dit was) met ‘n fiets in my kind vas, het sy lip teen sy tande stukkend gesny en vanoggend is sy lip omtrent geswel. Ek laat nie toe dat my laaitie fiets ry as hy maats het wat kuier nie, hoekom kan ander ouers dit nie ook doen nie? Maar nou ja, party dinge lyk vir sommige ouers voor die hand liggend en party ouers is nou weer so in gepla…

  23. Oeps, dit moet wees min gepla…

  24. Ai Zee ek is ook Ma van 3 en as ek sien hoe onverantwoordelik die skole raak, raak ek sommer vies! In die middae as ek die kinders kom haal kan enige een hulle oplaai die onderwysers kyk nie meer nie! Mens kan net bid dat dit nooit met jou moet gebeur nie!!

    Sterkte!!

  25. Ai julle, as ek so lees van almal wat oor hulle kleintjies bekommerd is kan ek nie anders as om ook ‘n eiertjie te le nie.
    ‘n Ma is ALTYD bekommerd oor haar kinders. Sy hou nooit op nie. Ek is ‘n grootjie en nou bekommer ek my nog oor klein en agterkleinkinders ook. Die worries raak met die jare meer….nie minder nie.
    Sterkte met al die bekommernisse

  26. Hi ((((Zee))))

    Baie dankie vir die foto’s!!

    Ek hoop dit gaan beter!

    A3 ek hoor gereeld hierdie ding van my ma, bekommerisse oor jou kinders stop nie, dit word net elke dag meer! A3 baie dankie vir die mooi kommentaar op my blog!

    Dis amper naweek, lekker naweek hou!

  27. Pingback: Hoe veilig is ons kleuters? ·

  28. Pingback: Die week in ‘n neutedop….. « Demoerin’s Klasak

  29. Pingback: 100 / ID-a-Kid « Zee Se Scribbles

  30. Help,

    My dogtertjie is beseer tydens skool ure . Sy het baie hard geval en niemand van ons het dit geweet nie eers uitgevind toe ons haar gaan haal het by die skool. Ook nie besef die val was hard nie , niemand by die skool kon ook verduidelik het nie. Dit is n lang storie sy is nou permanent siek en ja het ook onlangs n groot brein operasie ondergaan, ek voel so onseker ek weet nie meer wat om te doen nie, sy kry baie swaar en moet nou selfs na n ander skool gaan vir kinders wat sukkel. Sy het 4 brein lekke en 2 kon hulle herstel – weet nie of dit suksesvol was nie sal maar sal moet wag en sien, he iemand raad asb. Groete

  31. Ek het 3 pragtige dogters grootgemaak en is nou die trotse ouma van ‘n klein seuntjie. As ek julle enige raad kan gee: bid en glo. ‘n Mens se kinders kan enige tyd en enige plek iets oorkom. Die meeste dagmoeders doen hul werk met liefde, baie kindertjies kry meer liefde by die dagmoeders as tuis.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s