Zee Se Scribbles

Waarvan die hart vol is, loop die mond van oor

Happy B’day Madiba!

7 Kommentaar

Madiba, baie geluk met u 90ste verjaarsdag!!  Mag die Here u nog baie lank spaar!

Ek het bietjie gaan loer op Mieliestronk en op hierdie interessante inligting oor Madiba afgekom. 

HY is in die winter van 1918 gebore in een van die hutte van die statjie Mvezo langs die Mbasherivier naby Umtata in Transkei-in die nederigste omstandighede in die tyd van die Eerste Wêreldoorlog en die verwoestende Spaanse griep. Dat hierdie suigeling later in sy veelbewoë lewe eers ‘n martelaar sou word in die apartheidsera van Suid-Afrika om daarna sy land aan die einde van die twintigste eeu seëvierend ‘n nuwe tydvak binne te lei, sou geen sterfling toe nog kon voorsien het nie.

Mandela in die jaar 2000

BO: Mandela in die jaar 2000.

Beeld onttrek uit foto deur R.D. Ward / U.S. Defense News Photo / DoD

Nelson Mandela se epiese reis van ‘n veroordeelde vryheidsvegter tot triomferende staatshoof van ‘n nie-rassige Suid-Afrika-regdeur sy 27 jaar in die tronk as ‘n politieke gevangene-sou maak dat hy deur geskiedskrywers gehuldig word as een van grootste internasionaal-erkende ringkoppe van die twintigste eeu. Hy sou hom ewe tuis voel in ‘n hut as in die weelderigste paleis. Boonop was hy vir baie mense “maklik om lief te hê”, soos sy vrou Graca op ‘n keer van haar verstommende man gesê het.

Wat die meeste van Mandela onthou sal word, is dat hy in sy lewe die krag van vergifnis ontdek het. Of het hy werklik? Die Britse TV-aanbieder David Frost, wat op ‘n keer ‘n onderhoud met hom gevoer het, het later gesê: “Wat elkeen in Mandela bewonder, is hoe hy soveel jare verkeerdelik opgesluit is sonder om daarna bitter te wees. Wat ‘n triomf van die menslike gees! Toe ek hom vra hoe hy dit kon regkry, het hy eenvoudig gesê: ‘David, ek sal graag bitter wil wees, maar daar is geen tyd om bitter te wees nie. Daar is werk om te doen.”

Vandag, in sy skemerjare, bly Nelson Mandela steeds een van die wêreld se mees geëerde staatsmanne. Sedert hy in 1999 as president afgetree het, het hy Suid-Afrika se voorste nie-amptelike ambassadeur geword, met verbete veldtogte teen MIV/vigs en om ons land se poging te laat slaag om in 2010 die toernooi om die Wêreldsokkerbeker aan te bied.

Hoewel prostaatkanker in 2001 by hom gediagnoseer is, was hy ook al aktief betrokke by vredesonderhandelinge in die Demokratiese Republiek van die Kongo, Burundi en ander Afrika-lande. Hy het boonop pogings tot vrede in ander wêrelddele ondersteun.

In 2007 het Mandela 89 jaar oud geword. Toe hy ‘n tyd gelede sy besluit aangekondig het om hom uit die openbare lewe te onttrek, het hy gesê hy doen dit omdat hy meer tyd met sy familielede en vriende wil deurbring en om hom aan “stille oordenking” te wy.

Kinder- en jeugjare

NELSON MANDELA het die eerste lewenslig as ‘n lid van die Madiba-clan-‘n deel van die Temboe-bevolkingsgroep-in daardie klein statjie in die Oos-Kaap aanskou. Baie mense dink dat sy erenaam, Madiba, iets soos “Ou Man” moet beteken, maar dit is eenvoudig die naam van sy clan en word as teken van respek vir sy voorvaders gebruik. Die Madiba-clan is genoem is na ‘n Temboe-hoofman wat in die agttiende eeu in Transkei geheers het.

Mandela is as Rolihlahla Dalibhunga Mandela gebore, die laaste naam dié van sy oupa Mandela. Sy Engelse naam, Nelson, sou hy eers later van ‘n Brits-opgeleide swart onderwyseres by sy skool ontvang. Bes moontlik het sy aan die groot Britse vlootheld van die Napoleontiese Oorloë, burggraaf Horatio Nelson, gedink toe sy hom Nelson begin noem het, maar sy kon nie voorsien het dat haar skrander leerling nog eendag self ‘n held van wêreldfaam sou word nie.

Sy pa was Gadla Henry Mphakanyiswa en sy ma, Nosekeni (Fanny), was die derde van sy pa se vier vroue. Sy pa was ‘n plaaslike hoofman en talentvolle spreker, en hoofraadgewer van die waarnemende opperhoof van Temboeland. Hy is egter van sy hoofmanskap gestroop toe hy geweier het om in verband met ‘n klagte oor ‘n os voor ‘n blanke landdros te verskyn. Hy het gevoel dat hy as hoofman deur Temboe-gebruike gebind word en nie deur die wette van die koning van Engeland nie.

Dit het die gesin in armoede gedompel en Nelson se ma het ‘n kort entjie na die groter stat en Metodiste-sendingstasie Qunu verhuis, waar sy familielede gehad het wat haar kon ondersteun. Mandela sou sulke mooi herinneringe aan Qunu koester dat hy baie jare later vir hom ‘n aftreehuis daar sou laat bou.

Sy pa is oorlede toe hy slegs nege jaar oud was en hy is in die sorg van die waarnemende opperhoof van die Temboes, Jongintaba Dalindyebo, geplaas. Hierdie voog sou hom skool en universiteit toe stuur.

Van 1934 tot 1938 ontvang hy opleiding aan die Metodistekolleges Clarkebury en Healdtown en in 1939 en 1940 studeer hy aan die Universiteit van Fort Hare, ‘n sentrum van die swart intellektuele elite.

In 1941 verhuis hy na Johannesburg, werk ‘n tyd lank in die goudmyne en maak kennis met Walter Sisulu, deur wie se bemiddeling hy deur die liberale blanke regspraktisyn Lazar Sidelsky as ‘n leerling-prokureur aangestel word.

In 1943 tot 1949 studeer hy in die regte aan die destyds hoofsaaklik blanke Universiteit van die Witwatersrand.  

Van 1943 af word sy lewe dramaties oorheers deur sy politieke oortuiginge-en nou is dit miskien wenslik om die opeenvolgende verdere gebeure in ‘n “tydlyn” in te deel om dit des te helderder uit te lig.

Dit bly nogtans nie maklik om die lewe van Mandela in ‘n aantal paragrawe op te som nie. ‘n Beknopte verslag soos dié hieronder kan immers nooit reg laat geskied aan al die intense dramas wat hierdie wêreld-ikoon omgewe het nie. 

Die begin van die verset

1943    Sluit hom by die African National Congress (ANC) aan, aanvanklik as ‘n aktivis.

1944    Saam met sy hegte vriende Oliver Tambo en Walter Sisulu stig Nelson Mandela die Jeugliga van die ANC. Hy trou met sy eerste vrou, Evelyn Mase. (Hulle sou drie kinders hê en skei in 1957.)

1955    Die Freedom Charter word aanvaar op die Congress of the People. Gelyke regte word gevra, asook ‘n gelyke verdeling van rykdom tussen die swartmense en die land se blanke bevolking  .

1956    Mandela en nog 155 politieke aktiviste word daarvan beskuldig dat hulle saamgesweer het om die Suid-Afrikaanse staat met geweld omver te werp en word van hoogverraad aangekla. Die aanklagte word egter ná ‘n verhoor van vier jaar teruggetrek.

1958    Mandela trou met Winnie Madikizela.  (Nelson se elektriese verhouding met Winnie sou uiteindelik ‘n liefdesverhaal word wat tragies getemper sou word deur die politieke ambisies van twee kampvegters wat groter as lewensgroot was.) 

1960    Die polisie brand los op mans, vroue en kinders wat in Sharpeville betoog teen die nuwe paswette wat die bewegings van swartmense beperk. Altesaam 69 betogers word doodgeskiet. Die ANC word op 8 April verbied, en Mandela vorm ‘n ondergrondse militêre vleuel.

1961    In ‘n persverklaring verklaar ‘n uitdagende Mandela: “The struggle is my life.”

Lewenslank tronk toe

1964    Gevang deur die polisie ná meer as ‘n jaar op vrye voet, word Mandela (wat onder die naam The Black Pimpernel bekend geword het) in Junie in die sogenaamde Rivonia-verhoor aan sabotasie en verraad skuldig bevind en tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Daar was agt beskuldigdes in die saak-ses swartes en twee blankes. Mandela word aanvanklik op Robbeneiland aangehou, waar hy klippe moet kap in ‘n kalkmyn. Sy vrou Winnie staan aan die spits van ‘n veldtog om hom vrygelaat te kry.

1968 en 1969    Sy ma sterf en sy seun Thembekile word in ‘n motorongeluk gedood. Mandela word nie toegelaat om hul begrafnisse by te woon nie.

1980    Sy vriend Oliver Tambo, ‘n uitgewekene, loods ‘n internasionale veldtog vir sy vrylating.

1982    Mandela word van Robbeneiland na die Pollsmoor-gevangenis oorgeplaas.

1986    Die wêreld verskerp sy sanksies teen Suid-Afrika. Daar is bereken dat hierdie ekonomiese wurggreep die skatkis van die land tussen 1988 en 1990 meer as vier miljard dollar aan inkomste gekos het.

Die koms van die nuwe Suid-Afrika

1990    Pres. F.W. de Klerk ontban die ANC en Mandela word ná 27 jaar op 11 Februarie uit die tronk vrygelaat. Die ANC en die blanke Nasionale Party begin spoedig met samesprekings oor die stigting van ‘n veelrassige demokrasie in Suid-Afrika.

1991    Winnie Mandela word ‘n opgeskorte vonnis opgelê vir haar aandeel in die ontvoering van ene Stompie Seipei wat in 1988 dood is.

1992    Nelson Mandela skei van Winnie. Die besluit kon nie vir hom maklik gewees het nie, maar die huwelik het klaarblyklik onherstelbaar verbrokkel. In sy aankondiging van hul skeiding sê hy: “Ek gaan sonder verwyte weg van my vrou. Ek omhels haar met al die liefde en toegeneentheid wat ek binne en buite die gevangenis vir haar gekoester het van die oomblik toe ek haar die eerste keer ontmoet het.”

1993    Mandela en De Klerk ontvang saam die Nobelprys vir vrede vir hul pogings om Suid-Afrika te verander.

1994    In die eerste veelrassige verkiesing in die Suid-Afrikaanse geskiedenis wen die ANC 252 van die 400 parlementêre setels. Nelson Mandela word as die land se eerste swart president ingehuldig.

1995    Suid-Afrika se rugbytrots wen die Wêreldbeker toe die toernooi in ons land aangebied word. Mandela ontvang in die openbaar ‘n spantrui van die kaptein, Francois Pienaar. Dit word as ‘n hoogs simboliese gebaar van eenheid tussen swart en wit gesien.

1998    Mandela trou op sy tagtigste verjaardag met Graca Machel, weduwee van die voormalige Mosambiekse president Samora Machel. .

1999    Hy tree as president af en word deur Thabo Mbeki opgevolg.

2000   Word as bemiddelaar in die burgeroorlog in Burundi aangestel.

2001   Op 83-jarige leeftyd word prostaatkanker by hom gediagnoseer.

2004   Mandela se eerste vrou, Evelyn, sterf. (In 1994 toe Mandela met groot fanfare die eerste president van ‘n veelrassige Suid-Afrika geword het, was Evelyn reeds lankal ‘n tragies vergete figuur in die Transkeise dorpie Cofimvaba, 160 km noord van Oos-Londen.)

2005   Makgatho Mandela, 54, oorlewende seun van Nelson en Evelyn, sterf in die begin van die jaar aan vigs. As bedroefde pa pleit Nelson vir die openbaarmaking van vigs-gevalle sodat die stigma wat aan die siekte kleef, kan verdwyn. Nelson Mandela het nou drie oorlewende dogters, een uit sy eerste huwelik met Evelyn en twee uit sy tweede huwelik met Winnie. Sy oorlede seun Makgatho se vrou Zondi is in 2004 aan longonsteking oorlede.

Author: Zee

Waarvan die hart van vol is, loop die mond van oor....

7 thoughts on “Happy B’day Madiba!

  1. Happy Happy

    Ek moet erken, ek staan redelik ongeergd teenoor Mandela. Ek dink hy word soms uitgebuit. Dit sal wel cool wees as hy 100 haal.

  2. Adrie, hy is vir my darem so statige ou omie. Ek wil nie eers dink aan die celebrations as hy wel 100 maak nie!

  3. O jinne, ja, as jy 100 haal gaan daar seker vir maande feesgevier word. Maar ek dink hy is ‘n ikoon in die tyd waarin ons lewe, niemand sal hom ooit kan vergeet nie. Happy b-day, Madiba!

  4. wonderlik, baie nice en ointeresant, gebere en gesave nice work

  5. My kleintjie praat van : “Madierbaar”😀 – hy gereken dis so waar as wragtig die ou man se naam – nogal heel gepas as jy my vra.
    Dankie vir hierdie!! dis baie baie kewl!! xx

  6. Dellie

    As hy 90 is en daar word 12 maande lank verjaar, wat nog as hy 100 is? Gaan ons 2 jaar lank party?

  7. Happy Birthday Madiba!! Ek sal definitief koek op die spyskaart moet sit vanaand😛

    Dankie Zee!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s