Zee Se Scribbles

Waarvan die hart vol is, loop die mond van oor

ONTHOU JUL NOG?…..

16 Kommentaar

Na al die terug blikke na ons matriek afskeid foto’s en foto’s toe ons baba’s was het ek gedink hierdie stukkie wat ons Sondag by die kerk ontvang het is so van toepassing. Dit het my nogal BAIE laat verlang na die ou dae en ek wens so dat ons kinders en kleinkinders ook so sorgloos soos ons kon wees.

Lank, lank gelede, lank voor TV speletjies en dwelmmisbruik …

Ek praat nou van die tyd van wegkruipertjie in die park, van die kafee op die hoek, “hop scotch” vir meisies by die skool, touspring, klippie gooi, “hand stands” en donkie ry; krieket in die groot agtertuin, swem in die rivier, kamp op die strand, ‘n swaai gemaak van tou en tamatiekasplankies, vir sitplek aan die tak van ‘n groot appelkoosboom, rugby op ‘n oop stuk veld en tennis in die straat.

Die reuk van klein koekies bak, uit die kombuis; gemmerbier in die spens, roomys by die kombi met die bekende: “Toe-doedoe-doedeldie … ” deuntjie.

Wag, wag kan jy nog onthou … toe om-die-hoek nog ver was, toe jy nog moes was en aantrek voor jy saam dorp toe mag gaan. Honderde muskietbyte, stukkende knieë en repe vel afdop in die somer. “Cowboys en crooks”, “rounders”, “foefie-slide”, modderkoekies bak en boomklim. Waterbomme, kleilat, ketties en ‘n “pea-shooter” was die grootste wapens.

Onthou toe die enigste tekkies wit seilskoene was, en die enigste keer wanneer jy dit mag dra was vir “PT”.

In Stukkies karton in jou fietsspeke, het jou wiele laat sing. Skooltoe loop of fietsry – ongeag die weer. “Touchers” speel tot jy neerslaan. Lag tot jou maag pyn. Rondomtalie draai tot jy dronk-drank val. Moeg en vuil gespeel…onthou jy?

Ek’s nog nie klaar nie … kan jy nog proe en ruik: die jelliepoeier uit die pakkie, of droë Milo i.p.v. sjokolade, yslollies in Tupperhouertjies en Eno’s. Taai toffie-appels, borrels blaas met seepwater, lang ure se kook aan kondensmelk tot karamel; Wilson’s toffies; taai malvalekkervissies en lang stukke “liquorish” of “drop”.

Dit was nie vreemd om twee of drie beste maats te hê nie. Niemand het betaal vir ‘n troeteldier nie. As jy gelukkig was het jy 25c vir sakgeld of vir die kermis gekry.

Onthou jy hoe ‘n slim pa kon toor, as hy sy duim aftrek of ‘n 10c agter jou oor uithaal.

Die lekkerste van alles was om by die padkafee te gaan eet, want uiteet by ‘n restaurant was taboe vir kinders

Onthou nog hoe besluite geneem is met “eeny-meeny-miney-mo”. Foutjies was meestal omseil met ‘n eenvoudige “nix-daps”. Geldsake was net in “Monopoly”. Die ergste wat jy van die ander geslag kon kry, was kieme. Melk van Magnesia was ‘n verdowingsmiddel. Ouer broers was die grootste boelies, maar ook die beste beskermers.

As jy die meeste van hierdie dinge kan onthou, dan het jy GELEWE!!

Uit die pen van Anna Eksteen

Author: Zee

Waarvan die hart van vol is, loop die mond van oor....

16 thoughts on “ONTHOU JUL NOG?…..

  1. Sjoe dis mooi, ek onthou al die dinge… ek het gelewe.
    Dankie Zee dit was nou ‘n lekker “onthou” inskrywing

  2. Tv is ouer as ek. Tog was ek skuldig aan heel party van die boonste goed. Darem nou nie alles nie.

  3. Ek het ook gelewe, ek kan onthou hoeveel keer ek sluip-sluip huistoe geloop het omdat my klere alweer of die ‘slyde’ by die parkie geskeur het en hoe ons as dit reën, kaalvoet in die stroompies water geloop het en die modder deur ons tone gekrul het. Dit was die beste tye ooit om in groot te word…

  4. Dit was die dae en ek verlang baie daarna en word sommer hartseer om te dink vandag se kinders ervaar dit glad nie! En was ek nie stout nie…my gatvelle was baie afgetrek!

  5. ♪ Kinders was nog kinders, toe ons nog kinders was . . . ♪
    Aaai wat ek nie sal gee om weer daai sorgvrye dae te beleef nie

  6. Ek onthou al daardie goed. Ek onthou ook van “oxo-broodjies en rooikoeldrank” piekniek in die parkie.

    Ja, uiteet en fliek was vir grootmense en my ma het lang rompe en die mooiste bloese gedra en haar hare ge”tease” en my pa het ‘n pak en ‘n das aangetrek en daar was altyd die volgende dag peppermente in sy baadjie se sak oorgelos vir my. As hy lank weg was op die see het ek sy kas oopgemaak en sy baadjies geruik en weer gesoek of daar nie ‘n verdwaalde mentjie is nie…..

    Ons huis het toe glad nie diefwering gehad nie en ons het die kar nie gesluit voor die winkel nie.

    En saans, as ons om die eettafel gesit het, het ons saam Wolwedans in die Skemer geluister na die nuus en oordenking. Walvisbaai het eers TV gekry nadat ek uit die skool was….

    En vir R1 kon jy 33 rolletjies Wilson suiglekkertjies kry…..

  7. Those were the days my friend…… Ja, sorgelose jare. Those were the days…..

    Een ding waarvoor ek baie bang was…en nogsteeds vermy is dit die roomyswa met sy deuntjies…weet nie hoekom nie, maar ja.

    Lekker daggie, en dankie vir die memory lane… 😉

    Groetetjies
    Sonneblom

  8. Ja dit was die goeie ou dae, sorgvry.

    Die dae van Wilson toffies, die swartes, mmmm dit was so lekker.

    O ja Zee en dit was die dae sonder Blou Bul truie. Dit mis ek die meeste.

  9. Ek het voorwaar gelewe in daardie wonderlike tye!

  10. Jip – dan kan ek ook sê: “I’ve truly lived!” – lekker stukkie nostalgia – dankie!!
    (en mens kry nogal deesdae weer ‘appelkosies’ te koop – maar verbeel ek my of proe dit nie naastenby na dié van ‘toe’😕 )

  11. BB, ek koop elke week appelkosies (mm, maar ek voel maar eers of hulle sag is, ek hou van hulle so).

    lol@beertjie

    Sonneblom, lekker om weer van jou te hoor!

  12. Ag ja, dit was lekker tye. Ek lief ook nogsteeds daai appelkosies, veral as dit so lekker vars en sag is. En niggerballs – daai waaraan jy vir ure kon suig, wat eers swart was, en dan het al die ander kleure verskyn soos wat jy dit suig. En daai pakkies poeier koeldrank, Sweet Aid of so iets? Het gereeld rondgeloop met rooi of groen vingers!😆

    NS. Ek like jou nuwe gadgets!😉

  13. Aaaaaa! Ja, Dellie, Sweet Aid! Het dit geluv! En om drive-in toe te gaan…heerlik!

  14. Laat jy my nou terug verlang na dit wat was…. ja die dinge wat ek kan onthou is lekker dinge. Ons het altyd my ma se kombuis stoele gevat en in so ou volla agter in die jaart gaan sit dan het ons al ons maaikies genooi om saam te ry. 😉

    Die lekker dae…

    Lekker naweek vir jou.

  15. Great post! Ek is nou 15 so die is bietjie (baie) lank voor my tyd! Ek moet sê ek bly in `n kleinerige dorp en ek en my vriende doen nog baie van die goed! Ons sal nagte om op die dak slaap met net ons flits en pak Wilson Toffees! Of modderkoekies bak asof dit kerkbezaar toe moet gaan. En ek moet sê dit is van die lekkerste tye wat ons ooit het! Onangs het ons Staal Burger ontdek en hy is ons hero. Ons ken al die lines al en speel self die tonele agterna soos ons dink dit sou wees.
    Nee dit is herhinneringe wat altyd sal bly!

  16. Ruhan, bly julle doen nog die regte kinder dinge! Ai, nou verlang ek terug na die dae!!!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s