Zee Se Scribbles

Waarvan die hart vol is, loop die mond van oor

‘n Oupa om op trots te wees!

19 Kommentaar

 

 

Met die gesoek na baba foto’s kom ek op hierdie koerant uitknipsel uit.  Nou ja, ek is niks minder as baie trots op my oupa nie.  Ek lees onder sy foto dat hy in die tyd ook oupa geword het. 

Daar is nie ‘n datum op hierdie uitknipsel nie maar ek vermoed dat dit omtrent so 45 – 47 jaar terug moet wees omdat hy in daardie tyd oupa geword het en dit kon net ek of my boeta gewees het aangesien ons sy eerste 2 agter klein kinders was.  Ek herhaal maar die uitknipsel omdat dit moeilik is om hier te lees.

Universiteit Vrystaat

EERS SY GRAAD BEHAAL – DAARNA SY MATRIEK

‘n Man wat altesaam 12,000 myl moes ry om ‘n universiteitsgraad te bekom – en intussen oupa geword het – het eergister aan die Universiteit van die Vrystaat die graad B. Admin. ontvang.  Hy is die 45 jarige mnr. Willie Grové, verbonde aan die spoorwegpersoneel in Johannesburg.

Mnr, Grové vertel dat die ritte van sy huis na die universiteit en biblioteek en terug in sy drie studiejare altesaam sowat 12,000 myl beloop het.  Hy het ook eers sy universiteitsgraad behaal en daarna sy matriek!

“Maar ek het matriek baie moeiliker as die universiteit gevind,” sê mnr Grové.

AKTIEF

Hy het reeds in 1956 aan die Tegniese Kollege in Bloemfontein ingeskryf om sy matrikulasiesertifikaat te behaal.  Na die eksamen moes hy uitgevind dat hy nog nie die regte vakke gekies het om tot die universiteit toegelaat te word nie.  Hy het egter deurgedruk en met ‘n vrystelling die universiteit bygewoon.

Nadat hy aan die vereistes vir sy graad voldoen het; moes mnr. Grové nog eers  die voorwaardes van sy vrystelling nakom voordat hy sy graad agter sy naam kon skryf.  Hy moes naamlik eers matriek behaal.  Dit het hy verlede jaar gedoen.

Al die tyd wat hy gestudeer het, het mnr. Grové nog aan ‘n stuk of twaalf liggame aktief deelgeneem, byvoorbeeld as komandant van die Noodhulpliga en as kerkraadslid.  hy is egter baie beskeie oor sy prestasie.

“Dis die simpatieke belangstelling an my dosente en die aanmoediging van my vroue en kinders wat my daar gebring het,” sê hy.  “My gesin moes my eenvoudig drie jaar lank prysgee.  End se kant toe moes ek dikwels in ons slaapkamer studeer sodat my vrou my kon wakker skud wanneer ek aan die slaap val.”

“n Groot rede waarom mnr. Grové die opoffering gedoen het, is omdat hy voel dat die blanke akademies sterk genoeg moet wees.  As ‘n blanke nie sover moontlik wil leer nie, moet hy beried wees om werknemer by die nie-blanke te word; hy sal nie altyd werkgewer kan bly nie. 

Author: Zee

Waarvan die hart van vol is, loop die mond van oor....

19 thoughts on “‘n Oupa om op trots te wees!

  1. Knap gedaan oom Grove. Ver vooruit gesien.

  2. Zee, oupa was 13 jaar oud toe hy sy laaste jaar op skool geslaag het maar was te jonk vir universiteit wat net die baie rykes in elkgeval daardie jare kon bekostig.   Dus het hy nadat hy en ouma getroud is, maar altyd gestudeer.   Daar was altyd een of ander kurses en ek onthou goed hoe ons altyd gehoor het ons moet bietjie sagter speel want pappa leer. Dan onthou ek ook duidelik hoe le hy op die bed en leer, ouma, langs hom, lees ‘n storieboek kliphard en Springbokradio stories (ek dink dit was Liefdeslied) word kliphard uitgesaai, maar DIT het hom nie deurmekaar gemaak nie. Nou kan jy verstaan hoekom ek vandag nie kinders se geroesmoes kan verduur nie. Dis in die gene om deurmekaar te word van die gewoel.

  3. Dis ongelooflik!!!! Ek staan op aandag en salueer sommer met altwee my hande. Wow, voorwaar ‘n oupa om op trots te wees. A3, heng wat ‘n voorbeeld. Julle kinders het seker goed deurgeloop onder die platriem as julle bietjie lui was in die skoolwerk!!! 😆

  4. Pik, Dankie ja ons was almal trots op Pappa en Oupa en nee, ons het nie eintlik deurgeloop nie. Dit was altyd net mooi woorde. Ek moet ook vir jou se dat hy tot sy dood (ek dink dit was omtrent op 63 jarige ouderdom) nog steeds geleer het en ook verskeie ander grade behaal het.

  5. Zee, grou nog .. ek geniet hierdie inskrywings. Skryf bietjie vir ons van A3😉 Ek is nou net nuuskierig gemaak. hie hie

    Jou oupa was voorwaar vir julle ‘n voorbeeld, hardwerkend en vol ambisie. ‘n Oupa om op trots te wees.

    A3 hierdie Oupa Willie klink net soos my teddie, hulle hou nooit op studeer nie. (Dis seker in die gene 😉 he he )

    ‘n Pa en Oupa om op trots te wees..

  6. Ek gaan nou vir 2 weke buite aksie wees. JULLE IS DOOD AS JULLE ENIGIETS VAN MY SKRYF!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

  7. Ek haal my hoed af vir jou Oupa, Zee. Ek glo mens moet jou brein altyd aktief hou, dan hou jy sommer allerhande oumenskwale ook weg.

    Neet een ding – ek lees: – “Dis die simpatieke belangstelling an my dosente en die aanmoediging van my VROUE en kinders wat my daar gebring het,” sê hy. – Hie hie – hoeveel vroue het Oupa gehad? Is dit dalk dit wat hom so aan die leer gehou het?😆

  8. Awesome. Voorwaar ‘n Oupa om op trots te wees.

  9. Sonkind – O my genade!!!!!!!!! Ek weet net van my ma. Nou hoop ek nie daar was ander wat ek nie van geweet het nie. Hoop dit was ‘n drukkers fout.

  10. Lol, my oupa ‘n veelwyver!

    Wippie, ek dink dis nogal ‘n goeie voorstel dat ek bietjie oor A3 skryf. Julle vertel hoe sy hotrods gaan ry het, en op 60 leer duik het om darem saam met ons te kon gaan duik het!

    Ek dink nou nou net hoe oupa ons altyd kom oplaai het vir Sondagskool en dat ons geduck het sodra ons iemand gesien het wat ons geken het. By die kerk moes oupa uitklim en sodra ons geweet het dat hy in die kerk is, het ons uitgeklim. Min wetende dat my kinders presies dieselfde jare later met my sou doen!

  11. A3, is jy die A3 wie ek dink jy is, Ria en Martie se sus? Die inskrywing oor Jessica het my laat begin wonder en toe ek sien jou pa se naam is Willie, toe wonder ek nog meer want die Ria, Martie en A3 wat ek ken het ‘n broer in (Ohio) Amerika met die naam Willie Grové!

    Zee, jy kan voorwaar trots weees op Oupa Willie! Dit wil gedoen wees!

  12. Jinne Reisiger, dis nou net soos jy daar se, die 3 golden girls soos hulle genoem word. Nou het jy my darem maar aan die wonder oor wie jy kan wees, klein wereldjie die van ons.

  13. O gaats Reisiger, ek hoop nie al my skandes kom nou uit nie. Stuur asb jou epos adres na a3f@vodamail.co.za as jy dit nie op die blog wil publiseer nie. Ek is so nuuskierig my vel kriewel eintlik.

  14. A3, jy hoef nie te worry nie, ek’s mal oor julle “Golden Girls”! Ek weet net mooi goed van julle! Ek is Thea (soos in Thea en Flip) van die kerk. Maar Zee, ek glo nie ek het jou al ontmoet nie, of het ek?

  15. He he maar die wêreld is klein. Zee ek dink regtig ons sal dit almal geniet as jy vir ons meer vertel van A3 se opwindende lewe. Sy klink na groot pret🙂

  16. Wat ‘n prestasie!
    Voorwaar ‘n oupa om op trots te wees. 🙂

  17. Wonderlik! Julle mag maar baie trots wees op hom.

    NS. My huiswerk is gedoen!😉

  18. Soos Adrie sê: “Vêr vooruit gesien” – lees maar weer daardie laaste aanhaling van hom in die berig… dis so wow!!

  19. Pragtig!! Waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s