Zee Se Scribbles

Waarvan die hart vol is, loop die mond van oor

Wie rook in die middel?

14 Kommentaar

                                                               angel7.jpg

Daarna het hulle hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal: goud, wierook en mirre. (Mat 2:11)

Kindersêgoed in Engels kan onmoontlik nie met dieselfde effek in Afrikaans vertaal word nie. My diepste verskoning aan die skrywer (wie sy ookal is) dat ek jou storie so verinneweer het!

Ek en my man”, skryf sy, “was al vyf jaar gelukkig (wel, meeste van die tyd!) getroud, toe was daar nog geen teken van die geluid van kindervoetjies in die huis nie. Ek besuit toe om ernstig oor die saak te bid, en ek belowe die Here, dat as Hy vir ons ‘n ou kindjie gee, dan sal ek die perfekte ma wees – die ou bondeltjie met my hele hart liefhê en grootmaak met die Woord as my gids.

My gebed is beantwoord en ons word geseën met ‘n pragtige seuntjie. ‘n Jaar later word ons geseën met nog ‘n seuntjie.  Die Here se seën het nie opgehou nie, en ‘n jaar later is daar ‘n derde seuntjie en die jaar daarna seën Hy ons met ‘n dogtertjie.  My man was van mening dat ons skoon bankrot geseën is.  Vier kinders!  En die oudste was skaars vier jaar oud!  Ek het ‘n duur les geleer: ek het geleer dat ‘n mens nie vir God iets vra as jy dit nie met jou hele hart bedoel nie.  ‘n Dominee het dit eendag so raak gestel:  “As jy wil staan en bid vir reën, dan moet jy voorbereid wees en jou sambreel saambring!”

Ek het my belofte aan die Here probeer nakom en elke dag vir hulle ‘n paar versies uit die Bybel gelees terwyl hulle nog maar in hulle wiegies gelê het.  Dit was ‘n goeie begin!  Die Here het my toevertrou met vier kinders, en ek wou Hom baie beslis nie teleurstel nie!

Maar ek moes op die harde manier leer dat kinders grootmaak nie vir sissies is nie – dit vra van jou mandjiesvol geduld, soos die slag toe ek in die kombuis kom en twee dosyn eiers stukkend op die kombuisvloer aantref.  Al wat hulle wou doen, was om vir die baba-kuikentjies te soek wat binne in die eiers sou wegkruip!  Ek het my bes probeer om hulle punt in te sien toe hulle ‘n tehuis vir hawelose paddas in die spaarkamer geopen het.  Dit het my ‘n volle twee grillerige ure gekos om die drie-en-twintig slymerige paddas te vang!  En toe was daar die dag toe my dogter ‘n bottel tamatiesous oor haarself uitgegooi het, en in ‘n kombers toegerol het – net om te voel hoedat dit moet wees om ‘n warmbrak te wees.  Ek het baie hard probeer om die humor in hierdie petalje raak te sien, maar keer op keer doem die groot rooi gemors voor my oë op.

Ten spyte van die vyf-en-twintig-duisend doeke wat ek moes omruil; die vyf jaar wat verbygegaan het sonder ‘n enkele warm maaltyd; die feit dat ek nooit vir langer as ‘n halfuur op ‘n slag kon slaap nie – sê ek steeds elke dag vir die Here dankie vir my kinders. Ek kon dalk nie my belofte om die perfekte ma vir hulle te wees behoorlik nakom nie – aag, ek kon dit nie eers náástenby doen nie! – maar ek het my belofte gehou, en hulle volgens God se Woord grootgemaak.

Soms het ek die teiken so ‘n bietjie gemis, soos die dag toe sy haar partytjierok kerk toe wou aantrek – ek het verduidelik dat ons kerk toe gaan om Jesus te loof, maar sy het onthou van die partytjie toe Oom Wynand verloof geraak het – en as Jesus nou verloof raak – dan moet daar mos ook ‘n partytjie wees!  Iets het op ‘n slag in die betekenis van woorde skeefgeloop, toe ons oudste vreesbevange geprotesteer het dat hy nie gif wil hê nie – dit was nadat daar die aand gelees is dat God ons vergewe as ons sondig.

Toe breek die trotse dag aan: ons kroos sou deelneem aan ‘n Kersuitvoering.  My vyfjarige skaapwagter het sy enkele sinnetjie geoefen, en in sy gedagtes vir hom ‘n prentjie gemaak van wat daar gebeur het.  “Hulle het die Kindjie gevind, toegedraai in doeke.”, het die groot aand van die opvoering geword:  “Hulle het die Kindjie onder ‘n hoop vuil babadoeke gesoek.”  “Ag iesa!”,was Maria se kommentaar, terwyl sy haar neus vies toegedruk het.  Toe breek daar ‘n stoeigeveg uit tussen Maria en die skaapwagter, en die engeltjie wat tussenbeide kom buig haar kransie en verloor haar een vlerk.

Ek sak al laer in my sitplek in, maar nog is dat het einde niet: Maria laat die pop (wat Jesus voorstel) val, sodat die pop die verhoogtrappies afrol tot heel onder terwyl dit “Mamma! Mamma” kerm.  Maria trippel die trappies af en gryp die pop.  Onder luide gelag uit die gehoor, draai sy die pop oorhaastig weer in sy kombersie toe, net betyds vir die aankoms van die wyse manne.

En toe kom my seun se groot oomblik: “Ons is die drie wyse manne”, kondig hy plegtig aan, “en ons bring goud……” daar volg ‘n stilte, en ek hou my asem op.  “Wie rook in die middel?”  vra hy kwaai, terwyl hy vinger wys na die skaapwagters.

Ek wil wegsak in die aarde in, maar die gemeente gee hulle ‘n staande applous terwyl hulle kraai van die lag.  “Ek het in my lewe nog nooit so ‘n Kersuitvoering gesien nie”, sê die dominee agterna, terwyl hy die trane uit sy oë vee,  “Wie rook in die middel? – ek sal dit nooit vergeet nie!”, kreun hy terwyl ‘n volgende lagbui hom dubbel laat vou.  “My kinders is die trots en vreugde van my lewe”, antwoord ek hom, terwyl ek soek in my handsak vir ‘n hoofpynpil. 

Jesus het gesê dat Sy dissipels die kindertjies na Hom toe moet bring, en toe vertel Hy vir die dissipels dat hulle eers soos kindertjies moet word voordat hulle die koninkryk van God sal kan ervaar.  ‘n Kind beleef geloof baie meer intens as grootmense, en al verstaan hulle party goed glad nie, aanvaar hulle dit nogtans onvoorwaardelik.  Die dag as ons God se, dikwels totaal-onverstaanbare beloftes eers onvoorwaardelik aanvaar soos ‘n klein kindjie, dan is ons op die regte pad.

  angel9.jpg     

Gebed: Here, dankie vir kindertjies in ons lewe. Maak my asseblief vandag soos ‘n kindjie in die geloof.

Author: Zee

Waarvan die hart van vol is, loop die mond van oor....

14 thoughts on “Wie rook in die middel?

  1. Ai toggie tog…

    Wat ‘n lekker inskrywing.

  2. Hie-hie! Te pragtig! Kinders is baie onvoorspelbaar. My kind het met die vakansie haar pa se skelm rook laat uitkom. Sy’t ‘n stokkie gevat en gemaak of sy rook, toe se sy sy maak soos Dadda maak… Ja wel …

  3. Dankie Zee ek het dit geniet.

  4. Zee: Dis absoluut skattig! My jongste is nou 6, en hy het ook sy eie opinie oor die uitspraak van woorde. Mens moet hierdie goed erens neerskryf…want binne n paar jaar vergeet jy/ek dit.

  5. ZEE: ja toe my twee nog klein was het hulle ook maar met snaakste sè goed uitgekom, Jaco kon eenvoudig net nie TAMATIESOUS sè nie, dit was toe-toe (tu tu), MILKSHAKE was moes, Angie weer het eendag sy was nog baie klein, gewys na ‘n naeldekoker en gesè kyk die koker naker.

    Jaco het eendag saam sy oupa gery, my pa het by ‘n rooi robot gestop, en seker maar so bietjie rondgekyk, want Jaco het vir my pa gesè: OUPA DIE GROEN PIELIE’TJIE wys al, vir groen pyltjie. My pa lag nou nog as hy by daai robot moet stop.

    Ja so is elke kind uniek en besonders, hulle is ‘n geskenk van GOD.

    ZEE ek geniet my twee geweldig baie.

  6. Hehe, ek het dit nou vreeslik geniet!😆 Sou wat wou gee om daai kersopvoering te kon sien.

    My vriendin se seuntjie (3) vrek ook tjotsie rolls! (sausage rolls)

  7. Wat’s jou e-mail, Zee?

  8. Oulike storie! Kan nie wag voor Zalika begin praat nie! Maar aan die ander kant wil ek nie hê daai ronde, warm babalyfie moet grootword nie!

  9. Testing time zone! Dis nou 15h28 by my.

  10. Cute! (Behalwe as jy die ma is!)

  11. O vrek, ek het nou so gelag dat die trane letterlik rol! Dit was BAIE snaaks!

    My meisiekind het, toe sy klein was, en ook vir baie jare daarna, pisgetti gesê vir spaghetti. Ons spot haar nou nog daaroor.

    Mens vergeet die goed wat hulle so kostelik verkeerd sê. Dis waar, mens moet dit eintlik neerskryf.

  12. hehe! Thanks virrie smile!

    Slim! Sien jy raak nou professional! My tyd uit, tags ken ek nie van nie… Ek wag vir my laatnag lesse! Lol!

    ((zee))

  13. Ag Platt, was doodmoeg gisteraand, Zee bietjie siek en het omtrent heelaand saam hom geslaap, Oupa se hoeka hy gaan die welsyn bel want ek slaap saam met ‘n minderjarige! HEHE

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s